BLOEMFONTEIN — In ‘n aangrypende vertolking van die menslike kondisie, maak Doodnormaal sy debuut as deel van die PACOFS Artistieke Program vanaf 11 tot 13 September 2025, met Nico Taljaard in die hoofrol en regie deur Dion van Niekerk.
Lukas, ‘n verhoogbestuurder onder druk, skarrel agter die skerms om die verhoog gereed te kry vir ‘n opkomende vertoning. Die onsimpatieke regisseur jaag hom aan en kritiseer hom sonder genade, en namate die spanning bou soos hy jaag teen tyd, word Lukas se interne wêreld blootgelê — ‘n wêreld waarin selftwyfel, eensaamheid en die soeke na aanvaarding hom verstrengel hou. Wat begin as ‘n doodgewone taak, ontaard in ‘n sielkundige reis wat sy identiteit en selfwaarde op die spel plaas.
Doodnormaal is ‘n eenmanvertoning wat met humor, weerloosheid, en intense introspeksie, temas soos liefde, verlies, verwerping, en eensaamheid ondersoek. Lukas se verhaal reflekteer die druk van eksterne goedkeuring in ons sosiale media-behepte samelewing, maar met die belofte van hoop.
Taljaard se skryftalent, wat in sy debuuttoneelstuk, Skin Deep, tydens die 2022 KKNK Teksmarkinisiatief gevestig is, word in Doodnormaal sterk ten toon gestel. Hy daag die troebele idee van normaliteit uit deurdat buitengewone ervarings vermom word as ‘n oënskynlik alledaagse karakter.
“Ons almal dink ons is doodnormaal, tot ons uitvind ons is nie eintlik doodnormaal nie – niemand is eintlik doodnormaal nie,” sê Van Niekerk oor sy aanvanklike aantrekking tot die teks, wat ook in die eenvoudig, tog sjarmante gebruik van stel, beligting en klankeffekte die teks se temas tot reg laat kom. Verder ondersoek die stuk ook die aard van teater as tuiste vir uitgeworpenes, maar ook as ‘n spasie waarin selfopoffering en vermaak aan ander, aan die orde van die dag is, wat die temas van die produksie versterk.
Van Niekerk bring verder ‘n magdom teaterervaring na Doodnormaal, met verskeie toekennings op sy naam, insluitend die 2025 Fiesta-toekenning vir Beste Regisseur vir die Afrikaanse vertaling, Ons Wag vir Godot, wat in 2024 opslae by die Vrystaat Kunstefees gemaak het. Sy kreatiewe insette beloof om die produksie te verhef tot ‘n vlak waar gehore vermaak, ontroer en selfs geïnspireer sal word.
Teaterliefhebbers, jonk en oud, wat al met eensaamheid, verwerping, of die groot vrae van die lewe geworstel het, sal aanklank vind by hierdie toneelstuk. Moenie hierdie boeiende teaterreis misloop nie.
Vir meer inligting, onderhoude en kaartjiebesprekings, kontak asseblief vir Nico Taljaard by die onderstaande besonderhede:
- Nico Taljaard (Vervaardiger/Skrywer)
- 079 690 9696
- info@nicotaljaard.co.za

