“’n Wille-Woele-Weste Storie” bring die “cowboys” terug Bloem toe

Bloemfontein moet gereed staan, die “cowboys” is oppad! Die kinderstuk “’n Wille-Woele-Weste Storie” word in Augustus weer opgevoer in Studio 2 by PACOFS (Performing Arts Center Of the Free State) in Bloemfontein, na drie jaar se afwesigheid. Die toneelstuk, wat in 2019 by die Vrystaat Kunstefees gedebuteer het, het sy laaste draai in 2021 gemaak in die einste Studio 2. Die toneelstuk is geskryf deur C.W. Laten en Nic Beukes, wie albei ook die regie behartig. Die rolverdeling bestaan uit Kovsie Alumni, wie almal ‘n graad in Drama en Teaterkuns besit. Hierdie sluit in Jaco Enslin, Juné Pretorius, Marnique Terblanche en Lorenzo Dampies.

Die storie handel oor ‘n “cowgirl” (want “koeimeisie” klink te vreemd) wie deur die warm woestyn van die weste reis, opsoek na die skelm Stinkoog-Vernon, wie iets baie kosbaar van haar gesteel het – haar naam! Op haar reis, ontmoet sy vele snaakse karakters; van die liewe-lawwe kroeglaaitie Janus en sy magtige mop, tot die slinkse Langbeen Lara en haar breinaalde. Die stuk is geskryf met die oog om beide oud en jonk te vermaak met ‘n opwindende verhaal, pittige humor en asemrowende gevegde soos net “cowboys” kan. Sal ons heldin haar naam terugkry? Of gaan dit vir altyd aan Stinkoog-Vernon behoort, die man wie ‘n oogstaarkompetisie teen die son gewen het?

“’n Wille-Woele-Weste Storie” word opgevoer op 8 en 9 Augustus 2024 om 10:00, asook op 10 Augustus 2024 om 18:00. Kaartjiepryse werk uit op R80 per persoon, of R60 per persoon vir ‘n groepsbespreking van 5 of meer. Kaartjies is beskikbaar op die Webtickets webwerf.